Nieuwe Caert Van De Kaap Der Goede Hoop
Kaap die Goeie Hoop
Dié opskrif is geraam in ’n krultablet bekroon met die Hugenote-embleem met boodskapper-engeltjies aan elke kant. 0nder is ’n allegoriese vrouefiguur met anker en horing van oorvloed, en wilde diere met wingerdranke en druiwe. Links onder is ’n uitsig op Tafelbaai met skepe – ’n algemene kenmerk van ou kaarte – en aan die regterkant ‘n groep vlugtelinge, amptenare, en inboorlinge teen die agtergrond van Simonsberg en ’n ou Kaapse herehuis (tans die Hugenote-museum in Paarl).
Bo aan die kaart en regs is die wapenskilde met naamlyste van etlike bekende Kaapse Hugenote-families. Langs elke naam aan die regterkant is een of meer nommers en datums; dié nommers stem ooreen met die nommers van plase op die kaart, en die datums dui op die jaar waarin die plase toegesé is. Aan die linkerkant verskyn die name van ander Hugenote met ’n aanduiding van hulle beroep of ambag en datums van aankoms. Verder is daar ’n lys van grondtoekennings op plekke buite die grense van die kaart. 0p die kaart self is daar ook ’n aantal “ongenommerde” plase wot op een of ander tyd aan Hugenote of hulle nasate behoort het, en op die see is voorstellings van skepe met die name van die 14 vaartuie wat van die eerste vlugtelinge na die Kaap gebring het.