Skip to main content

Geïllustreerde Kaarte

Elke kaart is geïllustreer met die familie wapens van die mees prominente families sowel as geskiedkundige besonderhede in die styl van kaarte tipies aan die periode. Uitgebreide navorsing is gedoen om seker te maak die kaarte is histories so akkuraat as moontlik.

Die 480 x 580mm kaarte is pragtig gedruk op swaar kuns papier. Plaas jou bestelling hieronder.

Herontdek jou Erfenis

As jy ‘n afstammeling van een van hierdie roemryke Hugenote families is kan u hiermee ‘n unieke en waardevolle rekord van die erfenis van u familie bekom deur ‘n stel pragtig geïllustreerde kaarte te bestel. Die een kaart is van die plekke van oorsprong van families in Frankryk met die name en datums toe die Hugenote na die Kaap vertrek het en die ander kaart is van die Kaap van Goeie Hoop en wys die name soos dit met tyd verander het sowel as die dorpe en plase waar die Hugenote hulle gevestig het.

Geskiedenis van die Hugenote

Om godsdienstige vervolging in Frankryk te ontvlug het die eerste Franse Hugenote families in 1687 in Tafelbaai geland en hiermee die kulturele landskap van Suid-Afrika permanent verander. Met ywer en harde werk het hulle besighede en plase gevestig regoor die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie se nuwe kolonie aan die Kaap van Goeie Hoop. Hierdie dinamiese dinastieë het voortgegaan om ‘n kardinale rol te speel in die ontwikkeling van ons wonderlike land.

Carte Generale Du Royaume De France

Frankryk

Die volle opskrif lui as volg: “Algemene Kaart van die Koninkryk van Frankryk met Belangrike Plekke tydens die Godsdienstige Oorloë van die XVI en XVII eeue, sowel as die Name van Sekere Hugenote wat uit Frankryk gevlug het en hulle in die Kaap die Goeie Hoop Gevestig het.”

Dié opskrif word bevat in ’n krultablet wat versier is met voorstellings van die Muses van die Geskiedenis en van die Poësie wat hulde bring aan die simbole van die Hervorming, nl., die Hugenote-kruis, die seëls van Luther en Calvyn en die wapens van Hendrik van Navarre en van Gaspard de Coligny.

Links onder is ’n voorstelling van Coert Steynberg se beeld by die Hugenote-Gedenkmuseum op Franschhoek met die figure van Calvyn, Luther, Hendrik IV, Jeanne d’Albret en Gaspard de Coligny. 0p die kaart self is daar tekeninge van die hawe van La Rochelle en van die kerk van St. Thomas en die katedraal van Strasbourg.

Aan die regterkant tassen die wapenskilde is ’n lys van die name van 72 stamvaders van bekende Kaapse families, die jaar waarin elk hier aangekom het, sy plek van herkoms en die huidige vorm van sy van.

Nieuwe Caert Van De Kaap Der Goede Hoop

Kaap die Goeie Hoop

Dié opskrif is geraam in ’n krultablet bekroon met die Hugenote-embleem met boodskapper-engeltjies aan elke kant. 0nder is ’n allegoriese vrouefiguur met anker en horing van oorvloed, en wilde diere met wingerdranke en druiwe. Links onder is ’n uitsig op Tafelbaai met skepe – ’n algemene kenmerk van ou kaarte – en aan die regterkant ‘n groep vlugtelinge, amptenare, en inboorlinge teen die agtergrond van Simonsberg en ’n ou Kaapse herehuis (tans die Hugenote-museum in Paarl).

Bo aan die kaart en regs is die wapenskilde met naamlyste van etlike bekende Kaapse Hugenote-families. Langs elke naam aan die regterkant is een of meer nommers en datums; dié nommers stem ooreen met die nommers van plase op die kaart, en die datums dui op die jaar waarin die plase toegesé is. Aan die linkerkant verskyn die name van ander Hugenote met ’n aanduiding van hulle beroep of ambag en datums van aankoms. Verder is daar ’n lys van grondtoekennings op plekke buite die grense van die kaart. 0p die kaart self is daar ook ’n aantal “ongenommerde” plase wot op een of ander tyd aan Hugenote of hulle nasate behoort het, en op die see is voorstellings van skepe met die name van die 14 vaartuie wat van die eerste vlugtelinge na die Kaap gebring het.